Kranige liggaamsbouer presteer

shutterstock_50451382

Bianca van der Berg, ‘n lid van die Warerrite Gym in Fochville het onlangs ‘n derde plek verower by die IFBB Suid-Afrikaanse Liggaamsbou kampioenskappe wat vanjaar in Durban aangebied is.
Bianca het in 2013 aan fiksheidskompetisies begin deelneem nadat haar man Tommy, wat self aan liggaamsbou-kompetisies deelneem, haar oorreed het om te begin oefen
en gesonder te eet na die geboorte van hulle tweede seun. Sy sê dat dit nie vir haar as ma van twee seuns maklik was om weer te begin oefen nie, aangesien sy eerder tyd saam met die kinders wou spandeer en saam met hulle wou speel. Sy het egter
in 2013 die besluit geneem om hard te begin oefen en haar eetprogram aan te pas om gesonder te eet.
In die eerste kompetisie waarin sy deelgeneem het, verower Bianca ‘n tweede plek in die IFBB Beach Bikini-afdeling en dit was daar waar die fiksheidsgogga behoorlik gebyt het.
Sy het toe die uitdaging aan haarself gestel om elke keer dat sy deelneem, beter te lyk as wat sy gelyk het in die vorige kompetisie.
2016 was vir Bianca ‘n besondere jaar in haar sport aangesien sy onder die eerste 10 geplaas is by die Arnold Classic waar sy vir die eerste keer aan ‘n internasionale kompetisie deelgeneem het. Haar 3de plek by vanjaar se IFBB SA Kampioenskappe
bly egter steeds vir Bianca die hoogtepunt van haar loopbaan. Bianca se grootste droom is om eendag vir die nasionale span gekies te word om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig.
Vir vroue wat dit oorweeg om betrokke te raak by liggaamsbou en fiksheidskompetisies, is Bianca se raad dat hulle moet volhard in hulle besluit om ‘n beter jy te wees.
Dit sluit mooi aan by haar leuse wat sê: ‘Consistancy is the key to success’.
Alhoewel Bianca ‘n gekwalifiseerde somatoloog (skoonheidsdeskundige) is, is sy tans besig om haarself te kwalifiseer as ‘n persoonlike fiksheidsinstrukteur en bied sy in die
oggende oefenklasse aan vir ma’s wat wil oefen en beter oor hulself wil voel.
Tommy, Bianca se eggenoot is haar grootste steunpilaar en die gekwalifiseerde
IBFF provinsiale beampte help haar van dag een af met sy kennis oor oefen- en eetprogramme en veral met haar kompetisie voorbereiding.
Bianca wil graag vir die eienaar en instrukteurs by Waterrite Gym bedank waar sy oefen en dan ook vir almal wat haar so mooi ondersteun en moed inpraat wanneer dit moeilik raak met die harde oefenprogramme en die streng eetplanne wat sy moet volg om op haar beste te lyk tydens kompetisies.
Volgens Tommy van der Berg glo hy dat Bianca genoeg deursettingsvermoë het om wel haar droom te kan verwesenlik en hy is oortuig dat sy nog die groen en goud gaan dra.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top