Daar is hoop met elke asemhaling

Martie Geertsema (links) is twee en 'n half jaar gelede met Pulmonêre hipertensie gediagnoseer. Sy moet van duur medikasie gebruik maak om haar korttermyn aan die lewe te hou. Haar grootste behoefte is om 'n dubbele longoorplanting te kry en ook om bewusmaking van die siekte te bevorder om ander te help. Haar ma, Ans (regs) is een van haar steunpilare.
Martie Geertsema (links) is twee en 'n half jaar gelede met Pulmonêre hipertensie gediagnoseer. Sy moet van duur medikasie gebruik maak om haar korttermyn aan die lewe te hou. Haar grootste behoefte is om 'n dubbele longoorplanting te kry en ook om bewusmaking van die siekte te bevorder om ander te help. Haar ma, Ans (regs) is een van haar steunpilare.

Om asem te haal is vir die meeste mense ‘n onbewustelike gewoonte, maar vir Martie Geertsema is elke stukkie suurstof ‘n seën van bo, omdat sy ander van haar terminale siekte kan bewus maak.
Hierdie merkwaardige Potchefstromer se vrolike persoonlikheid is iets ongewoon en in sterk kontras vir iemand wat met pulmonêre hipertensie gediagnoseer is – ‘n rare en progressiewe siekte wat haar longe en hart stelselmatig verswak, totdat sy nie meer natuurlik kan asemhaal nie. Pulmonêre hipertensie is ‘n soort hoë bloeddruk wat die are in jou longe en die regterkant van jou hart beïnvloed.

Nou is sy van ongelooflike duur buitelandse medikasie, suurstof, neuspype en masjiene afhanklik om aan die lewe te bly – tensy sy hulp deur middel van ‘n orgaanskenking kan kry.

“Pulmonêre hipertensie staan bekend as ‘n weeskindsiekte, omdat dokters jou nie kan behandel nie.

In Suid-Afrika is daar slegs een uit die 17 voorgeskrewe medisynes daarvoor. Die groot mediese kostes en papierwerk is ook sieldodend. Die beste opsie sal wees om ‘n dubbele longoorplanting te kry,” vertel Martie.
“Ek het agtergekom dat iets fout is, omdat ek gedurig moeg en uitasem was. My hart het ook vreeslik vinnig geklop (130 klopslae per sekonde – rustend) en het groot skade opgedoen. Ek het deur vele toetse gegaan en dit is toe deur middel van ‘n slaaptoets gediagnoseer,” voeg sy by.

Martie het eers gedink dat dit miskien slaapapnee kan wees, maar het toe met ‘n skok uitgevind dat sy pulmonêre hipertensie het.
“As ek vroeër geweet het daarvan kon ek die simptome vroeër gediagnoseer het. My boodskap vir mense is dat hulle dokter toe moet gaan as hulle sukkel om asem te haal, of te praat en vinnig moeg of duiselig raak,” noem Martie wat voor haar siekte klasse in volwasse geletterdheid aangebied het en ook by Cambridge Universiteit in Engeland ‘n gekwalifiseerde taalassessor was.

Om haar siekte te behandel, moet Martie onder meer duur binneaarse medisyne van Duitsland af bestel en seker maak dat dit haar betyds bereik voordat haar huidige voorraad opraak. Sy moet elke 20 uur die medikasie vervang. Hierdie medisyne help om haar hart so gesond as moontlik te hou vir ‘n operasie.
“’n Mens word in die oggende wakker en dan doen jy ‘n inventaris van jou gesondheid. Hoe jou lyf voel, is jy duiselig, is jy naar ensovoorts. My dae wissel, tussen simptome, newe-effekte en op goeie dae doen ek papierwerk om seker te maak dat ek die medisyne kry.”

Ans en Martie Geertsema.

Ans en Martie Geertsema.

Martie se passie om bewusmaking vir pulmonêre hipertensie sowel as orgaanskenking te kry het haar genoop om vir hulp te vra en deur middel van die regte mense kon sy ‘n nie-winsgewende organisasie Meds4Martie, begin.

“Een van die doelwitte is om geld in te samel om my stygende mediese kostes te dek, aangesien my mediese fonds net 80 persent van die kostes dra. Dit is steeds R 20 000 elke maand. My idee is om ‘n sisteem aan die gang te sit wat ander met pulmonêre hipertensie ook kan help, sodat hulle weet dat hulle nie alleen is nie.
“Die hoofdoel is dat ander mense weet dat daar ‘n siekte soos pulmonêre hipertensie is en die belangrikheid van orgaanskenking ook beklemtoon word.

Ek moes deur nege dokters in ses maande gaan voordat dit by my gediagnoseer is. Ek was so verlig dat dit nie net ipekonders is nie en dat ek werklik ‘n probleem het en iets daaraan kan doen.

Volgens Martie moet haar hart en longe sterk bly en word gereeld gemonitor sodat sy moontlik ‘n operasie kan ondergaan.
“Dit is eintlik vreemd omdat ek nie mag oefening doen of water drink nie – iets wat gewoonlik aan gesond wees gekoppel word.
“Die vloeistof wat ek inneem gaan sit op my hart en my longe, so ek kan nie te veel inneem nie. Alles moet in klein hoeveelhede gedoen word.
“Ek drink medisyne en volg nou maar die Wolverine-dieet (bruin rys, groente en vrugte) om gesond te bly,” skerts Martie wie se energie en lewenslus ongeag haar omstandighede, inspirerend is.

Martie kom deesdae agter dat sy die kleiner dinge raaksien omdat sy forseer is om stadiger te lewe. Sodoende is sy ook meer bewus van haar eie mortaliteit. “Ek staan op en weet nie of vandag my laaste dag gaan wees nie. Ek word kwaad vir mense wat nie die dag aangryp nie.

“Net omdat jou storie skaarser, duurder of ongewoon is, maak dit nie anders nie. Ek dra net my storie op my gesig. Ek is net ’n eenvoudige vrou met eenvoudige behoeftes. Ek wil net asemhaal.”

Hoe kan jy help?

Die gemeenskap kan die webblad www.meds4martie.co.za besoek en donasies op die webblad deur middel van PayPal op ‘n weeklikse-, maandelikse of jaarlikse basis doen.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top