Uit my dagboek: Pappa se kind: Eina, eina, eina!

boy-and-dog-web

Eina, eina, eina! Daar is op die oomblik nie ander woorde wat vir ons meer frustrasie, verleentheid en uiteindelik woede uitlok nie.
Aiden het besluit dat alles wat hy nie wil doen nie, met dié woorde gepaard sal gaan. Wanneer hy moet gaan bad, hardloop hy weg. Sodra ons hom vang en optel, dan skree hy “owee, owee, owee, owee,” asof ons die arme kind martel.
As hy nie jou hand wil vashou wanneer ons in ’n besige winkelsentrum is nie, dan skree hy dit ook as jy nie sy hand wil los nie. So ook by die skool wanneer ons na die hek toe loop, dan sien hy weer die klimrame en glyplanke. Hy besluit daar en dan dat hy nog ’n bietjie wil speel. As mens nie haastig is nie, is dit gewoonlik nie ’n probleem nie, ’n vinnige rondhardloop saam met ’n maatjie vir 10 minute, dan is hy ook oor dit. Maar daar is nie altyd 10 minute om te speel nie. Met die gevolg dat hy geforseer moet word om te kom. So tel my vrou hom op en dra hom kar toe, maar die oomblik wat hy voel haar hande is om hom, dan kom die skree van “pyn”.
Jou onmiddellike reaksie is dat ander mense na jou kyk en wonder wat jy besig is om met die kind te doen. Jy voel hoe van die ander mammas vir jou gluur. Aiden gaan so aan asof iemand besig is om hom te knyp of iets. Niemand sê iets nie, jy voel net asof die wêreld jou maar kan insluk, want almal veroordeel jou nou. Gelukkig het ons onlangs geleer dat dit nie noodwendig die waarheid is nie. Die kleuterskool het ’n atletiekbyeenkoms gehou, dit was baie oulik maar ook maar chaoties. Kinders wat oral rondhardloop, heeltemal “high” op suiker. Aiden het ’n suigstokkie gesuig. Kort nadat hy dit in sy mond gesit het, het hy dit stukkend gebyt, in my vrou se hand uitgespoeg en weggehardloop. Ons soek verwoed na ’n lappie, weer eens kyk al die mammas. Tog het ons iets anders in hulle oë gesien, nie veroordeel nie maar simpatie. Asof hulle sê ‘ons verstaan presies.’

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top