Daar is van alle soorte mense hier by ons

Een van ons modelinwoners besig om herwinbare rommel by Pick n Pay weg te gooi.
Een van ons modelinwoners besig om herwinbare rommel by Pick n Pay weg te gooi.

Wysneus het die afgelope week weer besef dat ons inwoners nie almal dieselfde is nie.
Verlede week Donderdag het een van sy kollegas na Welverdiend gery.

Groot was haar verbasing toe sy net oor die Khutsong-pad na die kleinhoewes ry
en sien hoe ‘n blanke man, seker so in sy 30s, rustig met ‘n sak gemors oor die pad stap, dit neersit en aan die brand steek. Om dinge erger te maak, het dié man sommer ‘n klomp van sy familie en vriende nader geroep om Wysneus se kollega te probeer intimideer toe hy sien dat sy hom wil afneem.
Gelukkig vir die man is die foto nie goed genoeg vir plasing nie. Wysneus en sy kollega maak egter van nou af seker dat hulle elke keer wanneer hulle in Welverdiend is,
‘n draai by die oop veld, wat reg oorkant die man se huis skuins oorkant die rioolpompstasie is, maak om te kyk of die klomp nie weer dinge aanvang wat hulle nie
moet nie.
Jou aksie het dus nie geslaag nie, Meneer Spiere.
Inteendeel, nou weet almal hoe ‘n onaangename vent jy eintlik is! Behalwe dat dit onwettig is vir mense om sommer die veld aan die brand te steek, is dit ook uiters gevaarlik. Die vuur kan maklik versprei indien die wind sterk waai, soos wat dit toevallig op die dag waarop die nare Welverdiender die brand begin het, gedoen
het. Die skade wat die onlangse brande in onder meer Knysna aangerig het, wys
net weer waarom brandstigting nie geduld kan word nie.
In teenstelling met dié man se aksies, is daar baie inwoners wat hard werk om ons omgewing ten goede van almal op te pas. Drie hoera’s vir die man wat altyd so by die kruising op die pad na Deelkraal toe sit, asook al die ander mense wat papiere optel of rommel vir herwinning bymekaarmaak.
Pick n Pay in Carletonville se herwinningsblikke, wat deesdae in die parkeerterrein
nader aan KFC staan, verdien ook ‘n pluimpie. Nou is dit sommer moontlik vir mense om herwinbare gemors in die blikke te gooi, sonder om eers in die gebou in te gaan. En wat stop ‘n mens om sommer net soontoe te stap en jou gemors in die toepaslike blik te gaan gooi?
Wysneus sien ook dat daar deesdae al meer mense met trollies is wat vroeg in die oggende deur asblikke wat uitgesit is om deur die munisipaliteit verwyder te word, grawe.
Hoewel sommige mense dalk ongemaklik voel indien iemand anders deur hulle rommel grawe, dink Wysneus dit is goed dat dít wat een persoon nie kan gebruik nie, deur ‘n ander benut word, indien daar nog iets met dit gedoen kan word.
Intussen hoop Wysneus dat die afgelope week se bibberweer almal weer laat dink het aan dié wat nie so gelukkig is om onder ‘n warm kombers of twee, of selfs drie te kan lê nie. En dat almal seker maak dat hul diere ook veilig en warm is.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top