‘Gebede en genade’ red seun van Fochville

Ruben du Plooy, steeds bleek en moeg na sy onlangse operasies, hou een van die toekennings vas wat hy verlede week by sy skool se prysuitdeling verwerf het.
Ruben du Plooy, steeds bleek en moeg na sy onlangse operasies, hou een van die toekennings vas wat hy verlede week by sy skool se prysuitdeling verwerf het.

Die feit dat ‘n graad 6-leerling van Laerskool Fochville binne weke so goed van ‘n ernstige breinprobleem herstel het
dat hy verlede week sy skool se prysuitdeling kon bywoon, word deur sy ouers as “net genade” beskryf.
“Daar is soveel mense wat vir ons gebid het en gewys het dat hulle vir ons omgee. Ek weet nie wat ons daarsonder
sou gedoen het nie,” sê mev. Francis du Plooy en haar man, Frank.
Hul seun, Ruben (11), is op 8 Oktober in Mediclinic Potchefstroom opgeneem nadat hy die vorige dag oor ‘n erge
kopseer begin kla het. Hoewel hy aanvanklik vir migraine behandel is, het ‘n pediater na verskeie toetse agtergekom
dat ‘n sist, sonder enige ooglopende rede, byna in die middel van Ruben se brein ontwikkel het.
Dit was die begin van bykans ‘n maand in en uit die hospitaal vir dié vriendelike en energieke seun. Hy moes in ‘n kwessie van ‘n paar weke vier breinoperasies, waarvan twee noodoperasies was, in Mediclinic Sandton ondergaan.
“Dit is net ‘n wonderwerk dat hy geen breinskade opgedoen het nie,” vertel sy pa. Hoewel Ruben vir die res van die
jaar nie mag skoolgaan nie, aangesien hy steeds na die inplanting van ‘n permanente dreineringspyp, wat oortollige
vog van sy brein na sy maag herlei, herstel, het sy toestand só verbeter dat hy die aand van 2 November toekennings
vir onder meer akademie, sport en redenaars ontvang het.
Volgens Ruben se ouers het hulle tydens sy siekte besef hoeveel omgeemense daar in hul omgewing is. Nie net
is verskeie gebedsgroepe gestig om vir Ruben te bid nie, maar mede-inwoners het hul voortdurend met gebede en dade wat hul lewe deur die moeilike tyd makliker gemaak het, soos om vinnig ‘n bord kos aan te bring of te help om
kinders by die skool te kry, bewus geraak van hoeveel die gemeenskap nog vir mekaar omgee.
“Baie dankie vir almal wat ons bygestaan het,” sê hulle.
Hulle is ook baie deur mnr. Du Plooy se werkgewer, President Hyper, en mev. Du Plooy se werkgewer, Loumar Estates, bygestaan.
Die gesin wil ook graag die pediater wat Ruben behandel het, dr. Melanie Dance, sowel as die neurochirurg, dr
Zaheer Bhoola, bedank.

gladiator

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top