‘n Wonderwerk dat seuns leef nadat weerlig hulle tref

“Dit is ’n wonderwerk.” Dit is hoe Riaan Jacobs sy kind en dié se maatjie se ervaring beskryf nadat hulle voorverlede week deur weerlig getref en dit oorleef het.
Ethan Jacobs en Dylan van Wyk, albei graad vier-leerders aan Laerskool Bailliepark in Potchefstroom is die vorige Donderdagmiddag deur weerlig getref.
Ethan het skuiling onder ’n boom teen die reën gesoek.
Dylan het hom gaan roep om onder die boom uit te kom, toe die weerlig hulle getref het.
Leon de Beer, Marlize van der Walt en Elmarie Fouché, almal onderwysers aan die skool, het gesien wat gebeur het en het die twee seuns te hulp gesnel.
Hulle het mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering op die seuns toegepas.
Volgens Alet Jacobs, Ethan se ma, was haar kind drie keer ‘weg’, maar hulle kon daarin slaag om hom terug te bring.
“Hulle het my kind se lewe gered, hulle het nooit moed opgegee nie. As dit nie vir hulle was nie, was hy dalk dood,” het Riaan Jacobs, Ethan se pa gesê.
Volgens Marelise van Wyk, Dylan se ma, het sy aanvanklik gedink dat dit nie so ernstig is toe sy die eerste keer die oproep ontvang nie.
“Ek het by die skool aangekom op dieselfde tyd as die ambulans, en toe begin dit vir my erg raak.
“Hulle het vir my gesê ek moet kom sit, daarna het ek dadelik gedink dat hy dood is. Dit is ’n gevoel wat jy nie vir mense kan beskryf nie, jou hart sak in jou skoene wanneer jy dink jou kind is dood.
“Die onderwysers wat hulle gehelp het is regtig ons helde,” sê Van Wyk.

Leon de Beer, Marlize van der Walt en Elmarie Fouché die onderwysers wat die seuns gered het. FOTO: Susan Cilliers/Beeld

Leon de Beer, Marlize van der Walt en Elmarie Fouché die onderwysers wat die seuns gered het. FOTO: Susan Cilliers/Beeld

Volgens haar het Dylan se jonger broer deur die klaskamer se venster gesien wat met sy broer gebeur.
Ethan se ouers het hom by die hospitaal ingewag. Volgens Riaan Jacobs het hy ’n paar jaar gelede ’n vriend tydens ’n ongeluk verloor terwyl hulle aan ’n transformator gewerk het.
“Ek het dit voor my sien gebeur. Dit is al wat deur my kop gegaan het terwyl ek vir Ethan by die hospitaal gewag het. Toe ek hom sien het ek yskoud geword, maar hy het my dadelik herken en net gesê ‘pa!’ en toe glimlag hy. Daarna het ek rustiger geraak,” vertel hy.
Volgens hom het dit gevoel of sy hart gaan staan toe hy die oproep ontvang het.
“Ek is nie ’n ou wat maklik huil nie, maar almal by die werk moes my kalm hou,” vertel hy.
Jacobs wat by ALS werk het baie lof vir sy werkgewers en kollegas wat hom die hele tyd ondersteun het en dit steeds doen.
“Ek weet nie wat ek sou doen sonder hulle nie,” vertel hy.
Dylan is dieselfde dag al ontslaan, maar Ethan moes drie dae in die hospitaal deurbring. Albei seuns sterk tans by die huis aan.
“Ek kry elke keer hoendervleis as ek daaraan dink, dit is regtig ’n wonderwerk,” vertel Jacobs.
Volgens Van Wyk het sy nou meer waardering vir die lewe en die mense na aan haar.
Albei seuns het weerligstrale in hulle hare geskeer waar die weerlig hulle hare geskroei het.
Die Jacobs en Van Wyk-gesinne sê dankie aan almal vir hulle hulp en gebede tydens die voorval.

 

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top