Allerhande slim verhale met verkiesing op pad

Die kar wat minute tevore oor die rooi lig gery het, was duidelik nie op pad na een of ander noodgeval nie, want dit het in die dorp afgedraai.

Met dié dat die eerste voorbereidings vir die volgende verkiesings die afgelope naweek plaasgevind het, dink Wysneus dat ons binnekort weer al meer wonderlike verhale uit die monde van politici gaan hoor.
Hoewel die nasionale en provinsiale verkiesing eers een of ander tyd in 2019 gaan plaasvind, kon kiesers reeds die afgelope naweek gaan seker maak dat die besonderhede van hul adresse op datum is by die Onafhanklike Verkiesingskommissie.
In lyn met die volgende verkiesing wat weer aan die kom is, dink Wysneus dit was heel gepas dat Wêreld Sprokiesdag einde Februarie gevier is. Wanneer ‘n mens kyk na die beloftes wat ongelukkig al te dikwels voor verkiesings gemaak is en dit vergelyk met die werk wat wel gedoen is om ons ou dorpies ‘n beter plek te maak, is “sprokiesverhale” ‘n frase wat dikwels in Wysneus se kop opkom.
En as mens kyk na van die probleme wat tans hier by ons te sien is, dink Wysneus dat dit dalk makliker kan wees om ‘n pampoen in ‘n koets te toor as om van die goed reggemaak te kry of van die mense te kry om inderwaarheid
net hul werk te doen.
Wysneus weet ook wat hy sou doen indien een of ander goeie feë hom ‘n towerstaf in die hand sou stop. Al die
gate en gemors sou sommer dadelik weggetoor word. Wie ‘n slegte diensleweringsrekord het of die afgelope paar
jaar nie hy of sy werk gedoen het nie, sou ook summier in ‘n padda verander word.
Dieselfde geld vir al die wetsoortreders, veral dié wat soos maniakke op ons paaie ry en hul nie aan die verkeersreëls,
wat veronderstel is om ons almal te beskerm, steur nie. Wysneus het juis verlede week agter iemand gery wat nie veel vir verkeersreëls voel nie.
Die bestuurder van ‘n wit Nissan Almera het eenvoudig oor ‘n rooi lig op die hoek van Kaolinstraat en Annanlaan
gery.
Dié wetsoortreding het die bestuurder egter niks tyd gespaar nie, omdat hy op die ou einde agter ander karre by ‘n rooi lig op die hoek van Annan- en Goldstraat moes vashaak.
Hoewel daar nie ander voertuie aangekom het toe die bestuurder oor die rooi lig gery het nie, is daar ‘n rede hoekom
wette soos die feit dat jy by ‘n rooi lig of stopstraat moet stop, daar is.
Wysneus en sy kollegas het al van te veel ongelukke, soms selfs waarin mense dood is, gehoor wat veroorsaak is deur mense wat hulle net nie aan verkeersreëls gesteur het nie.
Wysneus is seker dat die mense nooit die bedoeling gehad het om ‘n ongeluk te veroorsaak of iemand dood te maak nie. Die feit dat hulle verkeersreëls oortree het, maak hulle egter dadelik die skuldige party wanneer iets skeefloop.
Intussen was daar ander oortredings wat Wysneus nogal oor reëls laat nadink het. Die afgelope week is die Australiese krieketspeler David Warner, sowel as die Suid-Afrikaanse speler Quinton de Kock, deur die  internasionale krieketraad beboet omdat hul optrede die spel in oneer gebring het.
Nou wonder Wysneus. Dink net hoe vol sal ons staatskas gewees het indien daar een of ander beheerliggaam
was wat politici wat hul “spel in oneer bring” kon beboet? Of wys die feit dat daar nie só ‘n liggaam is nie, dat die “spel van politiek” nie in oneer gebring kan word nie, omdat dit nie eervol is om mee te begin nie?

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top