Sukses vir Callies by groot rugbyweek

Callies se rugby-manne is vuur en vlam in die nuwe seisoen.

Hoërskool Carletonville se 1ste en o.15 rugbyspanne het die afgelope vakansie hul staal tydens die 26 ste Maurits Hansen Rugbyweek in Naboomspruit gewys.
“Dit is die grootste skolerugbyweek in die wêreld en 33 skole met 88 spanne het aan die besonderse geleentheid deelgeneem,” sê die skool se woordvoerder, mnr. Barney de Koker.
Callies se spanne het elk drie wedstryde gespeel en die o.15 span van mnre. Le Roux, Lewitton en Meyer het in hul openingswedstryd teen Hoërskool Northcliff te staan gekom. Callies het dié opponente met ‘n reuse telling van 74-7 geklop. Die Eerstes het hul wedstryde teen Morgenzon Landbou en Hoërskool Brits egter verloor, maar het hul laaste wedstryd teen Curro Hazeldean oortuigend gewen. Die o.15’s het hul wedstryd teen Hoërskool Driehoek egter met 21-12 verloor, maar hul laaste wedstryd teen Morgenzon Landbou met 33-7 gewen.
“Ons neem al deel van 2010 aan die Hansieweek en dit dien as laaste voorbereiding vir ons liga wat in Mei begin. Die wen of verloor is nie van belang nie. Dit gee ons as afrigters kans om aan kombinasies te werk, asook sekerheid te kry oor posisies in spanne,” sê mnr. SP Botha, Callies se rugbyorganiseerder.
Callies se liga vir wintersport begin op 26 April met netbal teen Bekker. Die hokkie begin op 7 Mei teen Roodepoort en die rugby op 5 Mei teen Bracken High. Al die openingswedstyde word tuis gespeel.
Callies wil al die spanne sterkte toewens met die liga en glo en vertrou dat alles goed sal afloop.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top