Gaan daar ooit iets oorbly?

Die bakkie met skrootmetaal wat Wysneus aan die dink gesit het.

Wysneus het Maandagoggend vir ‘n ent in Tugelastraat en Coronationstraat agter ‘n bakkie wat vol skrootmetaal was, gery. Die eerste gedagte wat in sy kop opgekom het, was om te wonder waar die goed agter op die bakkie vandaan kom.
Sover Wysneus kon sien, was alles maar redelik geroes en het dit nie gelyk of iemand meer iets daarmee kan doen nie. Hy het egter al gesien dat dit die afgelope paar jaar ‘n tendens is dat enige iets wat metaal is en waarvoor iemand geld op ‘n skrootwerf kan kry, terstond afgesaag, opgesny en as skrootmetaal verkoop word.
Op dié wyse beland goed wat dalk van geskiedkundige belang kan wees, op die hoop om gesmelt en gehersirkuleer te word. Niemand wat alles oral afhaal, dink daaraan dat van die ware dalk iets kon wees wat mense in die toekoms dalk meer van ons of van die verlede kan leer nie. Nee, alles word onder die vaandel van “herwinning” óf soos die Engelse sê, “recycling” verwyder en gesmelt.
Wysneus reken herwinning is ‘n wonderlike ding, aangesien dit ons toelaat om op ‘n nuttige wyse van goed wat net eenvoudig op die rommelhoop sou beland en só onnodige spasie opvul, ontslae te raak. Dit word egter ‘n heeltemal ander saak indien mense goed herwin wat eintlik net so gelos moes gewees het.
Hoe lank gaan dit wees voor al ons monumente, selfs dié wat deur die huidige regering opgerig is, gesteel, opgesaag en gesmelt word? Wat gaan mense wat dan oor ‘n 100 jaar meer oor ons probeer uitvind, leer? Dat ons baie ou boks-televisie- en rekenaarskerms gebruik het? Dit is, lyk vir Wysneus, al wat nie deesdae herwin of gehersirkuleer kan word nie.
Wysneus lees ook gereeld dat diewe en selfs huisrowers plasma-televisiestelle steel. Dit lyk vir hom dus of nie eens die diewe die ou soort televisies wil hê nie.
So van die baie vakansiedae gepraat, Wysneus hoor dat baie onderwysers kla oor hulle vakansies volgende jaar korter gaan word. Hoewel Wysneus nou nog kan onthou hoe hy skool gehaat het, dink hy tog dat indien hy ‘n onderwyser was, hy ook met bietjie ekstra vakansie sou kon doen.
Wysneus weet nie of hy hom verbeel nie, maar dit lyk vir hom of al meer ouers van onderwysers of ander amptenare verwag om hul kinders ordentlik groot te maak, in plaas van om hulle net soos vroeër jare ‘n behoorlike opvoeding te gee.
Dit klink vir hom byvoorbeeld of daar al meer van onderwysers verwag word om te verseker dat kinders dissipline het, aangesien hul ouers, om een of ander rede, dit nie vir hulle by die huis leer nie. Indien die bloedjies dan iets verkeerd doen, is dit die onderwyser se skuld, nie die ouers of familie s’n nie.
Nee wat, Wysneus dink nie hy sal ooit in die “gemaklike werk” van onderwyser kan aard nie.

 

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top