Kind se blomme wéér van graf gesteel

Mnr. Frik Olivier by sy seun se graf kort nadat hy en sy vrou vars blomme opgesit het.

Die pa van ‘n jong man wat in die Carletonville begraafplaas begrawe is, is ontsteld omdat daar geen sekuriteit by die begraafplaas is nie.
Volgens mnr. Frik Olivier, ‘n jarelange inwoner van Carletonville, is hy al raadop omdat die blomme wat hy en sy vrou op hul seun, Frikkie, se graf plaas, keer op keer gesteel word.
“Ons gaan sit elke keer nuwe blompotte en blomme op, maar iemand steel dit die hele tyd,” vertel hy.
Die probleem word ook net al erger. Die blompotte en blomme wat Kersfees op Frikkie se graf gesit is, was reeds voor die herdenking van sy sterfdatum op 22 Februarie, en toe weer teen sy verjaarsdag op 23 April, gesteel.
Sy ouers het dit wéér vervang, net om die afgelope Maandag weer te sien dat een van die blompotte en blomme gesteel is.
Volgens mnr. Olivier het hulle al die blompotte probeer vasplak, maar dit help nie veel nie.
Behalwe dat niemand kyk dat items nie van die grafte af gesteel word nie, is die begraafplaas se hek ook afgesteel.
Dit veroorsaak dat besoekers en diewe kan kom en gaan soos hulle wil.
Frikkie, ‘n kranige rugbyspeler wat onder meer die eerste leerling van Carletonville in baie jare was wat vir die Cravenweekspan gekies is, is in 1992 op die ouderdom van 22 in ‘n motorongeluk oorlede.
Die Herald het die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit Dinsdag oor die probleem uitgevra.
“Die munisipaliteit het nog nooit sekuriteit by begraafplase geplaas nie. Die hek is afgesteel en sal vervang word sodra die geld daarvoor beskikbaar is,” het ‘n munisipale woordvoerder geantwoord.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top