Plaaslike afrigter wen spesiale toekenning

Nkhokho het van kleins af ‘n liefde vir perde gehad en was ten tye van die foto reg om dié pragdier, Tango, te beslaan. Inlasfoto: Johnny Nkhokho van El Shaddai Stables met sy toekenning.

Tydens ‘n onlangse byeenkoms het Nkhokho die nasionale toekenning vir die professionele afrigter wat die beste in 2017 presteer het, ingepalm.
“Hy het dié toekenning ontvang omdat hy een van die min afrigters in ons bedryf is wat hom toespits op die ontwikkeling van nuwe ruiters. Op ons streek-skoue is hy die afrigter wat die meeste kinders en perde wat deelneem, na ‘n skou toe vat,” het ‘n woordvoerder van El Shaddai Stables, Amanda Johnstone, onlangs aan die Herald verduidelik.
Nkhokho (40), wat verlede week in suiwer Afrikaans met die Herald gesels het, se passie vir die ontwikkeling van jong ruiters het geen keer nie.
“Dit is baie, baie lekker om te sien hoe kinders wat eers skrikkerig is, ‘n groot liefde vir perde en perdry ontwikkel,”sê hy.
Volgens Nkhokho het sy eie liefde vir perde begin toe hy op Philippolis in die Vrystaat grootgeword het. ‘n Boer, ‘n mnr. Attie Pienaar, het Nkhokho se talent raakgesien en hom as ‘n perde-hanteerder begin oplei. Van hier af het Nkhokho na onder meer Virginia, Hennenman en Klerksdorp agter geleenthede om perde te leer, aangetrek voor hy hom in 2006 in die Carletonville-omgewing kom vestig het.
Hier het hy nie net El Shaddai Stables gestig nie, maar het deur die jare al talle ruiters, waarvan sommige nou al self tot afrigters ontwikkel het, leer perdry en die fynere kunsies van die sport geleer. Behalwe vir talle provinsiale en nasionale kampioene, is Nkhokho ook die eerste plaaslike afrigter wat hom op die leer van gestremde ruiters begin toespits het.
Behalwe dat hy ook op dié tydstip die spog Amerikaanse Saalperde van verskeie eienaars afrig, breek Nkhokho ook perde in en beslaan hy diere tot sover as Rustenburg.
“Perde is my passie en ek wil hiermee aangaan tot ek dood neerslaan,” het Nkhokho aan die Herald vertel.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top