Drie Callies-rugbyspanne in semi-finaal

Llewellyn Ellis, kaptein en losskakel van Callies se eerstespan, op pad doellyn toe vir een van die 11 drieë wat die skool gedruk het.

Callies se eerstespan het Alberton High School ‘n wedstryd gegee wat laasgenoemde sommer baie vinnig sal wil vergeet. Die spelers van Callies het elf keer agter die doellyn van Alberton High gaan kuier en het tot dusver die mees aanskoulike wedstryd nog gespeel in die seisoen.
“Die seuns het Saterdag net weereens gewys met watter talent hulle speel. Dit is regtig ‘n eer om met die klomp manne te werk, en onder die leiding van Llewelly Ellis, ons losskakel, het alles goed verloop.
Met so ‘n span kan enige kaptein sy kop hoog hou,” het mnre. SP Botha en Michiel Fourie, afrigters van Callies se eerstespan, genoem. Die o.15-span, afgerig deur mnre. Mossie Lewitton en Deon le Roux, het ook gewys hul verdien hul plek in die semi-finaal deur Alberton High met 41-0 in hul wedstryd te klop.
“Die span het in totaal sewe drieë gedruk en dit is net as gevolg van goeie samespel wat so iets vermag kan word,” het die afrigters genoem.
Twee van Saterdag se drie semi-finale wedstryde word by Callies gespeel.
Die o.15-span speel om 09:00 teen Bracken High op die A-veld en die 1stes vat die veld om 11:15 teen Alberton High School. Die o.14-span van mnre. Johan Bezuidenhout en Leander Carelson speel teen Hoërskool Allen Glen op laasgenoemde se velde.
Callies se o.6 A-hokkiespan het ook as kampioen in die Klein Skole-liga uitgetree nadat hulle Carleton Jones met ‘n telling van 4-0 gewen het. Hulle sal nou verder deelneem aan die uitspeelwedstryde in die Noordvaal-liga. Die o.15 hokkiespan het deurgedring tot in die finaal, maar moes as naaswenners uittree in hul wedstryd teen King Schools. “Ons wintersport het vanjaar baie goeie uitslae behaal.
“Ons netbal, hokkie en rugby se sukses kan toegeskryf word aan uitstekende toewyding van spelers en afrigters. Ek dank elkeen vir hul deelname en afrigting, ons pluk die vrugte. Vir die spanne wat verder deelneem in hul onderskeie ligas wens ek sukses toe,” het mnr. SP Botha, Callies se sportorganiseerder, genoem.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top