Siggestremde rolbalspeler palm wéér nasionale titel in

Salome Morries en Jaco Ludick het weer met 'n wenplek weggestap.

Morries en haar afrigter, Jaco Ludick, albei lede van Fochville Rolbalklub, het van 26 Mei tot 3 Junie aan die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskappe vir gestremdes in George en Oudtshoorn deelgeneem.
Hule het in die B4-afdeling vir siggestremde spelers teen deelnemers van regoor die land meegeding. Spelers met ander gestremdhede, soos dié wat fisies gestremd is en in rolstoele is, het ook in hul eie afdelings deelgeneem.
Die 62-jarige Morries het haar nie deur die week se onplesierige weer laat onderkry nie. Sy het vir die derde keer die gouemedalje in die dames- enkelkampioenskap ingepalm. Sy het dieselfde medalje ook in 2017 en in 2011 huis toe gebring.
Omdat ‘n siggestremde speler en hul afrigter as ‘n span saamwerk, het Ludick ook dieselfde medaljes verower.
Morries, wat byna blind gebore is en met die oorerflike siekte retinitis pigmentosa gediagnoseer is, speel al van 1988 af rolbal en het reeds met verskeie nasionale titels weggestap. Sy het ook al ‘n silwermedalje tydens die wêreldkampioenskappe ingepalm. Sy moes ook vir ‘n tyd uit die sport tree omdat sy twee jaar gelede ‘n nieroorplanting moes ondergaan. Morries het haar skenkersnier van ‘n rolbal-vriendin, Carika Steyn, ontvang.
Morries en Ludick is nie net mede-spelers nie, maar ook mede-werknemers by die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top