Dorado se jonges wys hul staal

Die ster o.19-span wat die strand-manne ore aangesit het, was Willie Pretorius (spanbestuurder), Gus de Bod, Ruben Pretorius en Franco Pretorius.

Verskeie lede van dié klub het van 16 tot 20 Julie aan die nasionale kampioenskap vir sportvis hengelaars in Shelley Beach aan die KwaZulu-Natalse Suidkus deelgeneem.
Hulle was deel van Gauteng-spanne wat spanne van ander Suid-Afrikaanse hengel-provinsies die stryd aangesê het. Gus de Bod, ‘n leerling van Hoërskool Carletonville, was saam met die jonge Franco Pretorius en Ruben Pretorius, beide leerlinge van Laerskool Dagbreek, in die o.19-span.
Hoewel hulle vir die grootste deel van die kompetisie óf tweede en derde was, kon dié span daarin slaag om algeheel vierde uit die 13 provinsiale spanne te eindig. Die SADSAA nasionale span het die afdeling gewen.
“Wat interessant is, is dat die Gauteng-span spanne van onder meer KwaZulu-Natal en die Suid-Kaap in ‘n seehengelkompetisie gewen het,” noem ‘n woordvoerder van die klub, Jaco Hendriksz.
Gus was ook die algeheel vierde beste hengelaar tydens die kompetisie na hy onder meer die 12de swaarste vis, ‘n geelvin-tuna van 19.90 kg, uit die water getrek het.
Sy ander vangste wat onder die kompetisie se swaarste visse was, was geelvin-tunas van 19 en 18.70 kg.
Ruben het ook ‘n geelvin-tuna van 18.80 kg gevang, terwyl Franco sy grootste op 18.40 kg ingeweeg het.
Al die visse van die kompetisie moes met vislyn met ‘n breekkrag van net 10 kg ingekatrol word.
Die Gauteng o.16 span, bestaande uit die Dorado Skibootklublede, Ruben Els en Juandré Wasserman van Laerskool Dagbreek en Reynard Koekemoer van Laerskool Fochvile, het hul ook goed van hul taak gekwyt, ondanks die feit dat Ruben, wat maar in Gr. 2 is, die jongste deelnemer aan die kompetisie was.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top