’n Kartonboks vol omgee vir moedige klein vegtertjie ná fratsongeluk

Klein Shaun in sy hospitaalbed in die Pelenomi-hospitaal in Bloemfontein.

en spyte van die ongelooflike pyn wat Shaun Breedt (7), ’n  graad 1 leerling van Parys Primêre skool moet verduur, is hy moedig, en is daar selfs vanoggend ’n klein glimlaggie op sy gesiggie.
Die pad na herstel vir Shaun is nog baie lank ná hy Vrydagmiddag ernstig beseer is toe ’n  betonblok op hom geval het. Albei Shaun se bene en sy regtervoet is gebreek, terwyl sy pelvis ook op 2 plekke gebreek is.  Hierbenewens het sy lewer seergekry en was daar inwendige bloeding.
Shaun is Maandag geopereer om penne in sy voet en linkerbeen te sit. Hy is intussen uit die intensiewe sorgeenheid van die Pelenomi-hospitaal, na ’n  kindersaal geskuif, maar sal na verwagting nog vir minstens 4 weke in die hospitaal wees.
Wanneer hy ontslaan word, wag daar nog ’n  baie lang pad vir Shaun wanneer hy waarskynlik vir eers met ’n  rolstoel oor die weg sal moet kom, en heelwat fisioterapie sal nodig hê.
Vir Shaun en sy ma, Louise, het hul lewens Vrydagmiddag ’n  nagmerrie draai gemaak toe hulle by ’n  vriendin van  Louise gekuier het, en die betonblok op Shaun geval het.
Shaun is per ambulans na die Parys-hospitaal geneem waar hy eers gestabiliseer is en toe per ambulans na Bloemfontein vervoer is.
Sedertdien het hierdie klein seuntjie ook al ’n bloedoortapping moes kry.
Pleks van om saam met sy maatjies Maandag in Juffrou Charné se klas te sit, en sorgeloos op die speelterein te baljaar, sal hy vir ’n tyd lank nie  in daardie vreugde kan deel nie.
Maar sy maatjies en soveel mense se liefde en ondersteuning vir Shaun en sy ma, sorg vir daardie moedige klein glimlaggie wat Shaun vanoggend kon gee, want gister is ’n  kartondoos vol klein bederfies, briefies van omgee vir ’n  baie spesiale maatjie, speelgoed en dinge om Shaun besig te hou, vir hom gestuur.
Die pakkie vol liefde is gepak deur sy skoolmaatjies, mense uit die gemeenskap en maatjies van die ABC Naskoolsentrum.
Daar sal gepoog word om elke week ’n pakkie vir Shaun te stuur om die lang ure in die hospitaal makliker te maak. As jy ietsie vir Shaun wil stuur, kan jy dit afgee by Mavis Steyn by ABC Naskoolsentrum of by Parys Primêre skool.
Daar is intussen ook ’n  trustrekening vir Shaun geopen wat aangewend sal word vir Shaun se rehabilitasie wat insluit sy rolstoel, fisio en ander hulpmiddels wat hy sal benodig om volkome te kan herstel.
As jy ’n  bydrae wil maak in die trustrekening is die besonderhede as volg: Du Toit Mandelstam, Standard Bank Trustrekeningnommer 040943526, takkode 055736. Gebruik asseblief die verwysing – Bam

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top