Vyf gewapende rowers rand bejaarde vrou aan

ʼn 76-jarige vrou is Woensdagoggend (8 Augustus) omstreeks 03:00 in haar huis in Van der Hoffpark aangerand toe vyf gewapende rowers ingebreek het terwyl sy en die ander inwoner van die huis, ʼn 24-jarige man, geslaap het.

Volgens polisiewoordvoerder, ao Mpho Manyoba, het die vrou omstreeks 03:00 in haar huis in Pieter de Villiersstraat wakker geword toe drie mans met balaklawas haar kamer ingekom het. Een van die mans het ʼn vuurwapen by hom gehad.

Die vrou het begin skree waarna een van die mans haar in die gesig geslaan het. Hy het haar begin wurg waarna hy bo-op haar gaan sit en haar hande met kabelbande vasgebind het.

Een van die rowers het intussen die 24-jarige man, wat in ʼn ander kamer geslaap het, gaan wakker maak en ʼn vuurwapen in sy gesig gedruk. Die rower het hom na die hoofslaapkamer geneem waar hy ook vasgebind is.

Die rowers het vir juwele gevra en die vrou aanhou slaan. Die man het vir hulle gevra om op te hou waarna hulle die voertuie se sleutels geëis het. Hulle het uiteindelik met ʼn Ford Escort, twee skootrekenaars en twee selfone gevlug.

Die slagoffers het hulself losgemaak en die saak by die polisie aangemeld.

Volgens Manyoba word ʼn saak van huisroof ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

 

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top