Aanstellerigheid

Ek kan baie dinge handle, maar aanstellerigheid is die een ding wat my hare laat rys. My bloed laat kook. My skoon skeel laat kyk.

Hier waar ek nou sit wil ek sommer my vuiste bal en my voete stamp. Jy moet my maar vergewe, maar ek moet dié klippie uit my skoen kry en gou ook. Ons almal kom die wêreld in op dieselfde manier: kaalbas, skreeuend en met ‘n gesnak na asem. Eers kruip ons, dan waggel ons en uiteindelik slaag ons daarin om sonder hulp – óf toesig, die plek op horings te neem. Op die eerste dag van skool klou ons aan ma se rokspand, en op ons 40 days in matriek besnotter ons mekaar – en belowe om elke maand te skryf.

Dan raak ons doenig met die lewe. Ons begin worry oor ‘n trouring, ‘n huisverband en wrintie-waar ook oor karavane of tyddeel in Margate. Soos ek sê: ONS ALMAL GAAN DEUR PRESIES DIESELFDE – of jy nou in die bo-dorp of langs die treinspoor bly.

Maar ‘n aanstellerige Ansie sal dié universele waarheid natuurlik ten sterkste ontken. Nee. Sy en haar (model) gesin hou in die Kaapse wynland vakansie. In die winter verkies hulle die wildtuin terwyl sy en manlief ook graag elke jaar ‘n draai by Alpe d’Huez in Frankryk maak. Die feit dat manlief ‘n password op sy slimfoon het, sy ‘n staande afspraak by ‘n holistiese welstandsterapeut (want ‘n gewone sielkundige sal nooit deug) het, en boetie slegs ‘n reserwe vir die onder 14 C-span is. Good life problems, sou my vriendin Keleabetswe sê. En ja, elke huis het sy kruis, maar aanstellerige Ansie moet altyd beter en blinker – selfs in tye van skade en skande.

Daar is ‘n verskil tussen aanstellerigheid en spog (alhoewel die meeste aanstellerige mense ook graag spog). Spog is vir my amper soos goeie nuus op steroids. Jy kan met rede spog as jy jou klas se toppresteerder is. As jy jou doelgewig bereik het. As jy vir die eerste keer ‘n souflé gemaak het wat nie ingslaan het nie.

Dit is oomblikke van vreugde.

Daar gaan egter ‘n tyd kom wanneer hierdie prestasies se spogwaarde afneem en jy – soos die res van die mensdom – na nuwe oomblikke van ekstase moet soek. Dit is nie die geval met aanstellerigheid nie.

Aanstellerigheid is niks anders as voortslepende fake-geit nie. Wanneer niks meer vir jou wow is nie. Dit is ‘n ewige gejaag na meer. Na groter en beter. En natuurlik gaan hierdie strewe gepaard met ‘n klankbaan wat 24/7 gespeel word. Skielik is ‘n nuwe motor of ‘n huis net nog alledaagse regmerkies op ‘n moet-hê-lys. ‘n Verloofring is nie meer ‘n belofte van ‘n toekoms saam nie, maar eerder ‘n bate met ‘n (karaat) waardasie by die versekering. Ek-het-die-beste-van-alles-houding word ‘n leefstyl. Hoe sê daardie advertensie nou weer? O-ja: you’re worth it!

Dit alles laat my dink aan ‘n grappie wat ek onlangs gehoor het. ‘n Klomp skaapboere het saam om die vuur sit en kuier. Dit was – soos dit maar laataand om ‘n braaivleisvuur gaan, ‘n gespog vir die beker. Die een boer se merino-ram was die wenner van die landbouskou. Die ander boer se kudde het A-gradering wol gelewer. Dis toe dat die derde boer breëbors vertel dat sy skape – behalwe vir goeie prestasies op die landbouskou en kwaliteit wol, boonop nog ongelooflik slim is ook. Reken, sê hy. Sy trop skape vrek nie net in die veld soos gewone skape nie, nee. Hulle loop ses dae agter ‘n slang aan net sodat slang-se-kind hulle kan doodpik.

Sien wat ek bedoel?

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top