Jarelange inwoner oorlede

n Jonger mnr. Johannes Dry, soos baie mense hom geken het.

Mnr. Jan Johannes Dry, gebore op 18 Mei 1936, is bekend by baie na hy en sy gesin in 1981 na Carletonville verhuis het. Hy het tot 1996 as ondergrondse ketelmaker by die Blyvooruitzicht Goudmyn gewerk. Omdat hy nog baie aktief was, op 60-jarige ouderdom nog geoefen het en volgens sy familie steeds ‘n “six pack” gehad het, kon hy nie as pensioenaris tuisbly nie. Hy het toe verder, tot op die ouderdom van 70, as ketelmaker vir ‘n privaat op Western Deep Levels myn gewerk. Hoewel aggressiewe kanker sy loopbaan toe kortgeknip het, het hy dié siekte oorwin en het selfs ‘n sertifikaat van die onkologie-afdeling van Wilmed-hospitaal vir sy deursettingsvermoë en ook omdat hy een van dié hospitaal se oudste pasiënte was, ontvang. In sy jonger dae was hy deel van die skietkadette van Laerskool Handhawer in Vereeniging.
Omdat sy pa nie meer aanwesig was tuis nie, het hy op 15-jarige ouderdom die skool verlaat en geleentheid gekry om vir vyf jaar as ketelmaker opgelei te word. Sy talent was sy beroep en hy het enigiets uit yster gemaak, van ongewone tafels tot spoggerige spieëls, Afrika ligte, yster gesigte, koekstaanders vir troues en vele meer. Baie hiervan word agtergelaat in sy en sy eggenoot se huis. Volgens sy familie was hy ‘n trotse man met ‘n sterk persoonlikheid.
Hy laat sy eggenoot, drie kinders, drie kleinkinders, familie en vriende agter. ‘n Roudiens word op 21 September om 14:00 deur ds. Henk Calitz vanuit die Nederduits Hervormde Kerk in Kaolinstraat gelei.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top