Help om spesiale hondjie ‘n naam te gee

Mev. Bokkie Janse van Vuuren en haar dogter, Natalie, met die lewendige brakkie wat nou na ‘n nuwe naam op soek is.

Die DBV het die oulike bont tefie onlangs in die pad naby die organisasie se hokke in Beersterstraat gevind. Die hondjie, ‘n Jack Russel-kruising, se stert was gebreek na dit met ‘n rekkie vasgebind is. Sy het ook twee liesbreuke gehad.
Hoewel die diertjie duidelik in baie pyn was, het haar vrolike geaardheid en veggees die personeel se harte gesteel.
“Die veearts het nie gedink dat sy die groot operasie om alles reg te maak, sou oorleef nie.
“Sy het egter gewys dat sy sterker is as wat mens dink,” sê mev. Bokkie Janse van Vuuren van die DBV.
Sy het die diertjie, wat nou maar net agt weke oud is, huis toe geneem en dit is nou deel van die DBV-gesin.
Om lede van die publiek ook by die DBV se aksies te betrek, kan hulle nou ‘n naam vir die hondjie kies.
Diegene wat wil help om die diertjie ‘n naam te gee, kan na die DBV se Facebook-blad gaan en daar met die DBV-personeel in aanraking kom.
Inwoners wat meer oor die DBV se aktiwiteite wil weet, is welkom om die DBV se hokke by Beersterstraat 51 in Oberholzer te besoek. Die hokke is weeksdae van 09:00 tot 16:00 oop.
Hulle kan ook die DBV by (018) 788 6262 skakel.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top