Veerpyltjiespelers hou die dorp se naam hoog

Die ster-veerpyltjiespelers is Morne Coetzee, Jacques Coetzee, Hennie Jacobs en Johan Joubert.
Die ster-veerpyltjiespelers is Morne Coetzee, Jacques Coetzee, Hennie Jacobs en Johan Joubert.

Verskeie veerpyltjiespelers van Carletonville verteenwoordig dié week die streek tydens dié sport se nasionale kampioenskap.
Jacques Coetzee, Hennie Jacobs, Morne Coetzee en Johan (Juba) Joubert gaan van 11 tot 15 Julie as deel van die Wesrand-span aan die nasionale veerpyltjiekampioenskap in Bloemfontein deelneem.
Die spelers, almal lede van die CBC (Carletonville Bowling Club) veerpyltjieklub,
is op grond van die punte wat hulle die afgelope jaar bymekaargemaak het, beoordeel.
Hulle moes teen spelers van klubs van Krugersdorp, Randfontein en Roodepoort, waar daar ook veerpyltjieklubs is, meeding om plekke in die span te kry.
Die Wesrand-span neem vanjaar in die A-divisie, die hoogste vlak waarop veerpyltjies in die land gespeel kan word, deel.
Altesaam 600 mansspelers, 136 vrouespelers, asook seuns- en meisiesspelers gaan tydens dié nasionale kompetisie kragte meet.
“Ons het hard geoefen om daar te wees en gaan net ons beste gee,” het Joubert verlede week aan die Herald vertel.
“Ja, ons is baie positief en is vanjaar ‘n baie goeie en gebalanseerde span wat al almal vantevore aan die nasionale kampioenskap deelgeneem het. Verlede jaar was dit my eerste keer en die senuwees het maar gepla,” het Jacobs bygevoeg.
Wanneer hulle nie aan groot kompetisies deelneem nie, meet die lede tydens kleiner byeenkomste by die klub en tydens ander klubs in die Wesrand kragte.
Die CBC veerpyltjieklub se tuiswedstryde en oefeninge vind by ‘n saal by die Carletonville Rolbalbaan plaas.
Die klub nooi ook jonger spelers en ander belangstellendes uit om veerpyltjies
te gaan speel en te kyk of hulle nie dié sport verder wil beoefen nie. Belangstellendes kan Joubert by 083 799 3992 skakel.

Latest News

COMMENTS

Parys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng SterVaal Weekblad
Top